Thursday 14 February 2013

Slakke in die tuin

Slak raad uit my tuin.  Ek vertel maar vir julle uit ondervinding uit my eie tuin.

Ongelukkig is die slakkies net so lief vir my tuin soos ek....  Hier is raad wat ek gereeld in my eie tuin gebruik:

1)  My groente en kruie tuin is afgesper van die res van die tuin.  Die rede hiervoor is maar om my honde uit die "eetbare"-tuin deel te hou.  So hier kan ek slakpilletjies gooi sonder om bekommerd te wees oor my troeteldier kinders.  (Ek gooi dit gewoonlik al op die lyndraad van die groentetuin.)

2)  Baie fyn eierdoppe rondom nuwe saailinge (dik gestrooi) help beslis om die slakke te keer in hul pad, maar jy moet dit lekker fyn maak en jy moet dit sommer mildelik strooi, want daar waar jy 'n opening los, gaan slak se kind kan deur beweeg. 

3)  Omgekeerde potte wat so halfpad oop is onder, laat die slakke lekker in die nag daar vergader sodat mens hul vroeg oggend kan "bymekaar maak" vir die asblik.  (Plastiek bottels werk net so goed.)  Veral as dit lekker nat is daar in die area waar jy die bottels sit.  Hulle kruip tog te lekker in die nag onder die bottels in.  (Slakke hou van nat areas.)

4)  As jy in 'n omgewing bly waar jy eendjies en/of hoendertjies kan aanhou - is hul natuurlik die beste opsie vir slak bestryding, maar glo my selfs eendjies raak later "versadig".

5)  Koffiemoer rondom plante wat jy wil beskerm is ook 'n goeie idee, maar weereens sal jy nogal heelwat moet strooi.

Die enigste manier waarop jy in 'n kits 'n slak plaag aansienlik kan verminder, is as jy maar met die hand "oes".  Vroeg oggend - lig maar die blaartjies van die plante op en "pluk" slakke so ver as wat jy in jou tuin beweeg.  Dis die maklikse, vinnigste en mees omgewingsvriendelike manier.

('n Raad wat ek al gekry het, maar nie eintlik suksesvol was in my eie tuin nie, was die pierings met bier.  Dalk is my slakke nie "drinkers" nie.  Hie-hie-hie.)

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.