My garden diary

OK so ek dink dis tyd om te begin notas maak van als in my tuin.  Ek is geneig om somtyds te vergeet wat wanneer in die tuin moet gebeur en so bly dinge dan agterwee.  So - Hoekom nie my tuindagboek aanlyn doen nie.  

Die fototjie hieronder is waarna ek mik.  My tuin is nog lank nie daar nie, maar hiedie fototjie dien as inspirasie.  Eendag.....   


Januarie – Warm weer met baie min reën en nogal winderig saans. 

·         Ons moet elke dag water gee.  As ons een dag mis, hang die plante se blare en sommige dreig om op te gee in die hitte.  (Daardie mense in die tuinboeke wat sê “gooi 2 tot 3 keer ‘n week nat”, het nie my tuin nie.  Smile) 

·         Krismisrose moet in skadu wees.  Ons het probeer om dit in spikkelskadu te sit, maar dit het nie gewerk nie.  Vol skadu onder ‘n baie digte boom in ‘n area van die tuin waar ‘n ligte briesie beweeg, was  die oplossing.  Nou floreer hulle en ook die ander wat net vroeg oggend 'n bietjie son kry.

·         Portulakas het mooi geblom (Volson) en my Dinner Plate Dahlias is ongelooflik mooi.  Hulle staan hoog en lewer ongelooflike groot helder blomme.  Beslis die moeite werd.  Moet onthou om vroeg genoeg hierdie jaar weer bolle te bestel.  (NS:  Dahlias blom baie laat as hul heelwat skaduwee kry.)

·         Sweetpea plantjies slaan oral in die tuin op, so ek neem aan nou is die regte tyd om saadjies te saai.  (Die natuur sê so.)

o   WENK:  Klomp goed verrotte kompos ingewerk in die grond saam met 2:3:2.  Laat die saadjies oornag week in ligte louwarm water voor jy plant.  (Dit laat hulle gouer ontkiem, maar is nie noodsaaklik nie.

Konfyt uit my tuin:
- Die vyeboom kry daagliks baie water sodat hy mooi kan dra want ek wil mos my gunsteling vyekonfyt kook.  Daar is heelwat vruggies aan die boom.  Ek kan nie wag nie.  Die reuk van vyekonfyt wat op die stoof kook, is my alltime favorite.
- Die boomtamatie wat ek van 'n kleine ou steggie aan die groei gemaak het, is nou yslik groot en dra vrugte vir die eerste keer.  Die vruggies is nog groen en daar is steeds blommetjies wat nog vruggies kan oplewer, maar dit lyk reeds of daar genoeg sal wees vir 'n paar potjies konfyt uit my tuin.




Februarie – Warm weer met baie min reën en mooi aande. 

·         Ek het begin Februarie greenpeppers gesaai en hulle het pragtig opgekom.  Het hulle hierdie Saterdag uitgepant in my groot plantbakke. 

·         Ek oes eiervrug uit my tuinbakke  (verwys hieronder by November se inskrywing het ek hulle laas jaar November geplant en nou is ek in my noppies van blydskap) en kon al heerlik daarmee kos maak vir die gesin.  Die plante groei te mooi en soos ek die vrugte pluk, kom daar weer nuwe blommetjies.  Ek moet se dis 'n eerste keer vir my aangesien ek nog nooit veel sukses met hulle gehad het nie.  (O ja.  Moet seker noem dat ek van my groente in plantbakke by my kombuisdeur plant en nie direk in die tuin nie.  Ek het al jare ‘n baie suksesvolle plantbak stelsel en sal meer daaroor vertel soos die plante groei.)

Maart - Ek het pampoenpitte in die grond gegooi en hulle kom te pragtig op.  Hopenlik hierdie jaar is daar 'n verrassing of twee, want laas jaar het die slakke als opgeeet.  Ek's gereed vir hulle.  Ek het ook greenpeppers wat ek al oes en het begin van die maand 'n paar uieplantjies by die kwekery gekoop en hulle is in die grond.  Nou moet hulle net mooi groei.  (Australiese Bruin uie)  Ek het ook in die somer pawpaws gekoop in die winkel vir 'n somerslaai en toe sommer die pitte in 'n bak in die tuin gegooi.  Die boompies het mooi opgekom en ek het 'n hele paar wat ek kan uitplant.  Een van hulle het reeds sy nuwe plekkie in die tuin gekry. Hierdie naweek sal ek die res moet uitplant.

April - Die Dahlias blom nog te pragtig en ek moet se dit is 'n groot vreugde in die tuin.  Elke keer as 'n nuwe dahlia se knoppe begin oopgaan, storm ons almal daarheen om te gaan kyk watter kleur.  (Kan glad nie meer onthou wat waar geplant was nie.)  April is nou die tyd om bietjie te begin "opruim", so ons begin so stadig maar seker die tuin bietjie in orde kry.

Mei - Herfs is beslis een van die mooiste tye van die jaar.  Wanneer die herfsblare oral val en verkleur, verkyk ek my aan die mooi geskenk van die natuur.  
  • Blare wat van die bome af val in die tuin maak 'n "mat" tussen die plante wat die plante teen koue beskerm.  Die blare sal mettertyd verrot en so weer nodige kos terug sit in die grond.
  • Jy kan die blare op tel en in 'n swartsak gooi vir latere heerlike kompos vir jou tuin.  (Gooi net in en knoop toe en laat dit staan vir 'n maand of twee.)
  • As daar 'n oorvloed is kan jy ook blare in jou tuin "begrawe".  Dis die ideale manier om plek voor te berei waar jy later dalk groente wil plant of jou lente blombedding.

Junie - Goed so nou raak die weer lekker koud.  Mens is nie eintlik meer lus om in die koue buite te wees nie, maar dis die tyd van die jaar waar "opruim" die towerwoord in die tuin is.
  • Maak geute skoon voor die eerste reen val.
  • Maak seker jou snoeisker is skerp en reg vir volgende maand se snoei tyd.
  • Verf tuinpotte sodat hul lente maande weer pragtig saam met die blomme lyk.
  • Herstel tuinpaadjies en heinings.  (Gooi weer nuwe klipgruis of boombas vir paadjies in jou tuin waar nodig.)
  • Spuit vir onkruid.  (Kookwater is die ideale natuurvriendelike middel om te gooi op plaveisel waar die onkruid oorneem.  Moet net nooit die warm water op of naby jou plante laat kom nie.)
  • Maak seker plante het waar nodig stutpale en is vasgemaak.
  • As 'n tuinmuur verf nodig het - kies 'n sonnige dag en verf hom voor die klimop plante teen hom begin rank en nuwe lote uitstuur.


Nota:  Die baba spinasie wat ek gesaai het in plastiek kommetjies by my agterdeur staan soos hare op 'n hond en is meer as gereed om te pluk.

Julie - Ons het hard gewerk in die tuin en al die bome mooi gesnoei om vorm te gee en gesonde groei te verseker.  Hiedie jaar het ons nie die pruimbome gesnoei nie.  Daar was eintlik geen rede nie.  Die boom was gesond en sy vorm was nog perfek, so daar is niks geknip aan hom nie.  Hopenlik sal hy ons beloon met 'n oorvloed lente bloeisels.    Verder het ons tuin potte geverf en maar die onkruid op die grasperk begin uit trek.  Dis winter tyd en ons rus bietjie nou tot so einde Augustus.

Augustus - Die bome is vasgemaak vir die Augustus winde en die geute is skoon - dankie tog want met al die reen sou dit 'n ding afgee as die geute nie skoon was nie.  Daar gaan nognie veel aan in die tuin wat blomme plant betref nie.  Die gras het sy eerste toediening van 2:3:2 gekry en daarna het dit heerlik gereen.  Die tydsberekening was net reg.  Verder het ek my pietersielie geplant reg vir Desember se kersfeestafel en "platter"-versierings.  My tiemie is geplant en my boontjies blom al mooi.  Die eerste saadjies van gekoopte tamaties en greenpepper is uigehaal en gesaai in die tuin.  Moet nog kunsmis in die tuin in werk.  Augustus is die beste maand om dit te doen.

September - OK nou is ons reg vir begin plant.
  • Die Dombeya en Chinese Lantern blom in oorvloed.  
  • Die pruimboom sit oortrek van bloeisels en dit lyk daagliks of ons troue hou soos die fyn wit blaartjies neer reen.  Dis pragtig.
  • Ons haal steeds onkruid uit tussen die gras die oomblik wanneer ons dit sien.
  • Die Dahlia bolle is geplant.  (Ek wonder nog of ek ekstra bolle moet kry.  Sal so mooi lyk as mens 'n groot area vol kan plant.  Hmmm..... ek dink nog oor hierdie een.)
  • Die varkore lyk baie statig soos hul oral blom.
  • Die suurlemoen sit steeds oortrek met suurlemoene en intussen begin die ander weer te blom.
  • Die jasmyn het begin blom en dit ruik fantasties.
  • Ek saai steeds saadjies vir greenpepper en tamaties.
  • Het 'n hele klomp rooi uie saad gesaai in saadkissies en hulle staan nou sommer op my vensterbank in die kombuis tot hul opkom en begin mooi groei.
  • Moet intussen nog gou reel vir 'n klompie kunsmis.  Het bietjie in Augustus hiervan vergeet.  Dan dit lekker inwerk in die tuin sodat die blommetjies kan in.
  • Wil hierdie jaar maar weer probeer om Marigolds (Stink Afrikaners) te saai.  Hul is darem pragtig - wens net die slakke wil hul uitlos.  (19 Sept. 2013 - Ek het die Afrikaner saadjies gesaai in ou plastiekhouers en hul groei te pragtig in my kombuis op die vensterbank.)
Onthou:  September To do List:  
  • Vyebome en Piesang"bome" moet 3:1:5 kry.  Ook die Pomelo wat nou in oorvloed blom.

    Oktober - Ek het die sitrusbome (Pomelo, lemoen, nartjie, suurlemoene) in my tuin 3:1:5 gegee om seker te maak hulle gooi nie die blommetjies af nie en om 'n goeie oes te verseker.  Die vyeboom het ook nou elke dag baie water nodig omdat die klein vruggies al begin wys oral aan die boom.  (Hy het sommer ook 3:1:5 gekry.)  Die koejawelboom het ons vroeer in die jaar baie erg terug gesnoei en hy bot te pragtig.  Lyk ook sommer baie gesonder.  Die pampoene in die tuin groei met oorgawe en rank die hele groentetuin amper toe.  Die laaste blaarslaai is ook nou geoes. 
    ***  Moet onthou om die pampoene te spuit teen meeldou.

    November - Die eiervrug plantjies groei fluks en ek hoop regtig hulle lewer iets op hierdie jaar.  Hulle is sommer in 'n ou houer geplant by die agterdeur, maar hulle kry genoeg son, so kom ons hou duime vas.  Die vorige keer was nie baie suksesvol nie, maar ek moet erken ek het hul toe te min water gegee.  Hierdie jaar kyk ek mooi na hulle.  

    - My pawpaw bome dra ook nou vrugte wat ek kan gebruik vir somer vrugteslaai.

    - Ek het 'n rissieplantjie in my vensterbank in die kombuis en het gedink hy gaan dit nie maak nie, want nadat ek hom van die beskerming van die kwekery gebring het, het hy maar triestig begin lyk, maar...... hy dra pragtige rooi rissies.  (Baie impressed.)

    - Die tamatieplantjies groei ook fluks en dra al vruggies. (Saadjies wat ek aan die begin van die seisoen sommer in die grond gegooi het wanneer ek tamaties in die winkel gekoop  het vir slaai.)  Dit is nou tyd om hulle bietjie te stut sodat hulle nie om val as gevolg van die vruggies wat hul dra nie.


    Desember 
    - Die Marigold / Afrikaner plantjies wat in my kombuis begin groei het, het pragtig geblom in my tuin.  En die wonderlikste nuus - die slakke het hul uitgelos.  :-)  

    - Ek het amptelik 3 eiervrugte in my klein tuintjie by die agterdeur.  Dit klink dalk min, maar dis die eerste keer wat hul in my tuin dra en ek is in my noppies.  

    -  Daar is al een of twee klein bloedrooi cherry-tamatietjies wat ek kon oes.  Daar is nog heelwat wat moet ryp raak.  (Dis die lekkerte van jou eie groentetuintjie, al is dit sommer net in 'n bak by jou agterdeur - die dag wat jy begin oes aan die vruggies en groente is die lekkerste lekker.)

    -  Die tiemie en roosmaryn plantjies by my agterdeur in plastiekhouers groei pragtig en weelderig.

    ***  Nota aan self:  Het vergeet om die pampoene te spuit teen meeldou en ja nou sit ek met meeldou probleem.  Volgende jaar .....  :-)

    - Nuwe tuinpaadjie uitgele en dit lyk nogal baie oulik.  Gee sommer 'n nuwe "kuierhoekie" ook aan die tuin wat andersins nie maklik bekombaar was nie.  (Somtyds maak sulke klein goedjies 'n groot verskil aan die tuin en hoe jy in jou tuin kuier.)

    Lys van verskillende soorte vrugtebome in my klein dorps-tuin:
    1.      Druiwe – Bien Donne / Hanepoot & Sultana
    2.      Liquartboom
    3.      Vyebome
    4.      Olyfbome
    5.      Pawpaw bome
    6.      Lourierblaar bome
    7.      Piesangbome
    8.      Koejawelboom
    9.      Moerbybome
    10.   Avo boompie
    11.   Lemmetjie bome
    12.   Suurlemoen bome
    13.   Pomeloboom
    14.   Nartjie boom
    15.   Lemoenboom
    16.   Pruimboom
    17.   Boomtamatie boom

    No comments:

    Post a Comment

    Note: only a member of this blog may post a comment.