Thursday 28 February 2013

Huge Dahlias

Dis die laaste dag van Februarie en die dahlias in my tuin lyk ongelooflik.  Ek het al fotos geneem en vir al wat ‘n familielid is gestuur om te spog.

In my kinderjare het die buur-omie groot dahlias in sy tuin gehad.  Sulke helder massiewe blomme wat oor die tuin muur geloer het soos vriendelike gesigte wat jou groet in die verbystap.  Diep rooi, pers, oranje, pienk-lig-pers skakerings, alle kleure.  Dit was ongelooflik mooi.  Almal het van oom Burger se dahlias gepraat.
Later jare op ons plaas het my ma rye en rye dahlias gehad met ook die mooiste kleure :  Groot blomme. 

Maar toe begin die wereld dink hulle moet blomme verander en aanpas vir kleiner tuine en siedaar jy kry nerens meer ‘n groot dahlia soos ek dit kon onthou nie.  Praat jy met mense by tuinsentrums, luister hulle nie na jou nie.  Dis ongelooflik.  Dis asof hulle dink jy is dom en weet nie beter nie.  As ek vra na die “dinner plate dahlia” word daar vir my vertel dat die klein bolletjies wat daar op die rak lê met die foto van die klein dahlia blommetjies op die pakkie, “is eintlik baie groot mevrou……hulle is regtig die dinner plate dahlias.  Mens kry mos nie groter nie.”  Hmmmm ja.

Verlede jaar besluit ek toe genoeg is genoeg.  Ek het navorsing gedoen en daar is werklik so iets soos ‘n “dinner plate dahlia” en dis werklik beskikbaar in SA.  So is ek twee keer na die kwekery. 



Die eerste keer het ek moedeloos geraak van probeer verduidelik terwyl die mannetjie dink hy is die haan van die plaas en weet beter as ek.  Die tweede keer loop ek ‘n vriendelike kerel raak wat graag wil help en ek dog ek probeer maar weer.  Verduidelik weer my hele storie en staan en wag om weer die antwoord te hoor van…..”mevrou dit is daardie op die rak.”  Maar nie die keer nie.  Hy antwoord met ‘n vriendelike “Ja mevrou ek weet waarvan u praat.  Ons het nie in voorraad nie, maar ek kan vir u bestel.”  HUH?  Werk hy by dieselfde plek as die ander man?  Ek was stom maar so opgewonde dat daar ‘n kans bestaan dat iemand my sal kan help. 

Ses minute later staan hy met ‘n katalogus voor sy bestuurder se neus en probeer die oortuig dat daar so ‘n blom bestaan en dat hulle dit kan bestel.  Die bestuurder stem in (geen benul van wat hy eintlik voor instem nie) en die gawe kerel belowe om vir my die bolle te bestel.  Neem my besonderhede en als. 

Ek kry toe die bolle wat hy bestel het en plant hul met ‘n glimlag en liefde, maar ek kon nie help om te wonder of ek weer hierdie keer vir ‘n “ride” gevat is nie. 

Mense, nou einde Februarie kan ek glimlag van oor tot oor en is ek jammer ek het nie die gawe kerel se naam om vir hom dankie te kan se nie.  Dit is toe werklik die regte dahlias en hulle floreer in my tuin.  Dankie gawe kerel by die kwekery dat jy na hierdie tannie geluister het ………werklik geluister het.  Ek kom hierdie jaar weer terug en gaan weer by jou kom koop. 

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.